Die Mitford Lodge is sentraal gelee in Morgans Bay, die kusdorpie naby Oos London wat deur menige beskou word as die ingang tot die Wildekus. Die Mitford Lodge het 'n asemrowende uitsig op die see en omliggende kranse, en word deur 'n skrale 30 meter van die see geskei.
Reeds sedert die vroee 1940s is die naam Mitford Lodge sinoniem met die ongerepte natuurskoon en gematigde klimaat van Morgan Bay, die naaste kusdorp vir die oorgrote meerderheid van die Vrystaat sowel as dele van die Oos-Kaap provinsies. Desnieteenstaande bly hierdie stukkie hemel steeds vir vele vakansiegangers 'n wel-bewaakte geheim.
Wyl steeds nederig, bied die Mitford Lodge vakansiegangers 'n keuse uit die volle spektrum van verblyf opsies teen bekostigbare tariewe. Die volgang, bed-en-ontbyt (B&B), en selfsorg eenhede varieer van oudmodiese dubbels tot moderne, luukse 3-slaapkamer ten volle toegeruste wooneenhede, sommige met 'n prima see uitsig.
By die Mitford Lodge is persoonlike kontak steeds ons fokus, en ons stel onsself dit ten taak om gaste plat op die aarde te laat tuisvoel.